net my pappa              


Ek onthou hoe ek daardie stil aand onthou het wat emosies moet beteken, wanneer iemand jou alles was en eintlik nog is.
Ek onthou dat ek sonder moeite kon huil, nie oor die feit dat hy nou weg is nie , maar oor die feit dat die leemte nooit gevul kan word nie. Ek onthou die seer wat trane plant en die herineringe wat siel-verlangend oor die gang se koue vloer rol.
Verlange vreet my op en ek besef my pa is in die werklikheid net ‘n oproep vêr.Van voor af bewaar en koester ek die dankbaarheid vir n pa; ‘n Pa soos myne.
Met boerskoene ‘n kort denimbroek wat al amper-wit verbleik is van harde werk en ‘n boertjie-hemp, khaki en vuilgroen soos ek dit ken, verlang ek na die pappa-soen van Vrydagmiddag, die growwe gesig en die strelende blou oë, die oogknip in stiltes en die sterk treë wat duidelik pa se stap is. My pa in soveel opsigte, maar dit bly my pa.
Kleintyd se kwaai was nodig en tienerfase se klompie liefde ook,  want as Pa vir jou die kyk gee, dan moet jy maar wéét; dis reg of weg. Vir niks sal pappa nee sê nie, maar die slag as hy doen, dan weet jy dat sy nee, sy néé is.
Met wêreldkennis en -ervaring soos min, weet ek dat my Dads die beste raad kan gee, ongeag die situasie. Van hokkie, sport en speel, tot leer werk en liefde vir die kerk.
Pappa se voetspore is stewig op my hart, want in elke aand se gebedjie kom dwaal hy rond. Deur die dag  sy “my hel” en in die aand voor ete sy “Amen”.
Pappa – nog altyd ‘n steunpilaar wat my hartswoning stewig hou, die een wat net weet wanneer daar fout is, sonder woord, sonder daad. Regte woorde met stemtoon wat perfek skakeer, is sy skouer die beste plek om te gaan huil.
Klein dingetjies wat in grootmaat ooreenstem is ek en Paps min of meer, iewat dieselfde. Van stil en teruggetrokke, tot dans dat die biesies bewe. Pappa is ook die een wat vir my iets waardevols geleer het, waarby ek die res van my lewe sal baat. Dit is niks anders as die liefde vir lees nie.
Boeke dra by tot wie jy is, dit is een van die vorms waarin jy gegiet en gevestig word. Vir elke boek wat jy oop maak, vir elke bladsy wat jy lees en vir elke woord wat jy waardeer, is daar ‘n sleutel. Die sleutel sluit die verkeerde weë toe, maar sluit oop dít wat vir jou beskore is.
In geörganiseerde chaos het ek ook al tot hier gekom. Regpak wat nooit ophou nie, en papiertjies ook nie. Insig vir die laaste demensie – of dit nou in lewenssituasies is of net op papier – om die draai word gesien en die storie agter die storie word ontsyfer.
Nuuskierigheid is die deurklokkie wat aanklop by navorsing se stoep. Die begin van iets groter as die verwagting self.  Navorsing, opleees, vluglees en soeklees is deel van die karmenaaitjie wat Pappa met liefde en deernis op die stoep los vir sy liefling.
Met ‘n gesonde haastigheid, word van produktiwiteit gebruik gemaak, iets wat uitstaan al van kleityd af. Met presisie, maar dubbeldoelig word takies en opdragte uitgevoer.
Synig van aard het sy voordele, en stilwees ook, maar groot glimlag en baie liefde steek dit sommer vinnig-vinnig weg.

Met ampertjies-wit grys hare en ‘n bles vandat ek kan onthou, is my daddy oopkop. Slim, met pitte waaroor die res van ons nét kan droom, is logika by elke deeltjie van sy DNA ingesluit.
Warm drukkies in die winter en ‘n koel oogknip in die somer is my Daddy-teddie die beste beer wat bestaan. My hart loop oor van liefde en waardering vir wat hy nie als vir my sal doen nie. Soms aanvaar ‘n mens die liefde van ‘n ouer as vanselfsprekend. Die een seëning wat werklik meer as net 2 keer getel moet word.
Handleiding vir die lewe, en rigtingwyser na God, passievolle Pappa en die boer op wie ek lankal verlief is. Dit is my pappa. Met sy oupa-oor wat luister en sy sagsê-siel wat gesels, kan ek nie anders as dat my hart vannaand net trots pomp en my are rek vir die pappa wat hy is nie.
Suksesvol en geslaagd is hy die Pappa vir wie elke blondie wens. Pappa is die deel van my hart wat aanhou klop, al dink ek nie altyd daaraan nie.
Liefde wat nie beskryf kan word nie

Van ‘n plaasdogtertjie wat viraltyd by Paps wil kom inkruip

2017.01.30

Advertisements

3 thoughts on “net my pappa              

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s