Jou hart

Ek hou jou hart vas en ek weet nie of jy weet nie. Ek weet nie wat om daarmee te maak nie. Ek dink ek wil hom vashou in watte, ek wil jou hart koester en aan die klop hou hier by my, al is dit kunsmatig. Ek weet net ek wil jou hier hê. By my. Hart en al.

Jou hart was nog altyd goed, van die begin af is die stories deurvleg met goedheid, glimlagte en goeie intensies, maar ek dink nie hulle was in die kelder deel van jou hart nie. Daar waar alles ‘n bietjie kouer is en effens bedruk. Ek wou so graag glo dat jou hart net sonstrale op sy rakke gebêre het. Sonstrale en wyehorison-sonsakke oor die bossie-vlaktes en gemsbokke.

Maar vandag toe ek sit-en-verwonder en sit-en-verkyk, het nie geweet of dit vir jou is of net jou hart wat ek by my wil hou nie.

Is dit selfsugtig om synig te wil wees met jou hart? Ek wil hom ewig net by my hou, met sy donker kamers en al.

 

Mal Mens

2018.10.19

Advertisements

kunswerk sonder gallery

​Dis met 02:15 gedagtes wat ons stilsit. Dis met gesprekke wat woordloos verander in gevoel. Dis met onbeantwoorde boodskappe wat ons siel kraak.
Soms is dit moeilik om te dink dat ons almal stadig doodgaan. Ons uurglas uitloop. Dis moeilik om te verstaan dat mense verdwyn. Al is hulle nog vaagweg verbind aan jou hart.
Die digters skeur blaaie uit ons menswees en deel dit uit op straat. Skilders steel kleur in ons oë en plak dit teen die bleek doek van oseaan-harte. Die danser se ritme vervang ons polse; joune ook.
Dig bly kuns. Skilder en dans óók. Maar jy is nie meer in jou gewone rymskema of medium vasgevang nie. Jou ballettbolla het uitgeval. 
Met halwe stories,  achromatiese oë en n onreëlmatige klop kom weef die waarheid n persiese mat vir die sitkamer van my arm binneste.

Leemtes maak vol 

en ruimtes kripeer. 

Jou hart is hol 

en jou liefde seer.

Sy is sag nes wol

maar moeg probeer

Ek het gewag.

En jy gerus,

sonder lag,

sonder sus.

Buite op straat

wag jy nou sonder naat.

Uitgerafelde garingdraad

op markplein-plaat.

Kuns is jy.

In verf, ink en noot;

met weggooi seergekry,

as, en die waarde van lood

Onder donkergrys

het jy my hart kom bewys.

Met baklei.

Sonder gallery.

-MM

2016.08.10

E L F

​E L F

Dis vannaad elf maande terug wat ek onthou. Dis die gruwel-gevoel wat oor my rug gly. Jou soet soet woorde het vervaag in ‘n bitter en  suur smaak . 
Jou gesig is nie meer die mooi glimlag wat my laat verlang nie. Jou gesig is die skaam een wat verskonings uitbabbel. Jou woorde is besig om ‘n skerp ysberg in my hart te steek. Jou oë is stiller as ooit en jou hare se kleur verbleik.
Ek is nogsteeds hartseer oor dit wat gebeur het en hóé dit gebeur het. Ek is hartseer oor dit wat kon wees en ook was. Maar my hart is die seerste oor dit wat ek vir jou sou doen, maar jy nooit vir my nie. 
My hart se boord is nou sonder vrug en blaar. Die winter se dou klink nog aan my takpunte. My bloeisels is van nou af donkerkleurig. My blare skraler en my wortels stewiger.
Dankie wil ek sê vir dit wat was en dit wat jy my geleer en gewys het. 
Dankie dat jy die woord liefde versmoor het. Dankie dat jy my geleer het om my hart vir myself te hou. 
Dankie vir maande se seer…
Elf maande wat kon wees. Elf maande met elk ‘n les op sy eie
Baie liefde Patta

2016.07.06

Dra my ♡ saam

Dra my hart saam met jou weg tot waar ons alleen kan wees. Dra my hart rond in jou hempsak sodat myne naby aan joune kan wees. In die winter, dra my hart in jou wolsokkies vir n bietjie hitte, in die somer op jou rug. Dra my hart in jou oe op die dae van pyn. Dra my hart na aan jou.

Dra my hart saam jou siel, kom piekniek saam met hom in die warm middagson van die winter. Kom lag saam op die blokkieskombers.

Reis saam met my hart na onbeende karoo-dorpies. Pak jou tasse en vat my hart saam. Stop langs die plaasdam en laat ons swem.

Draai die draadloos aan en sing kliphard net vir my, vir my en my hart. Draai die venster oop en vertel my van die reën wat oorloop in jou.        

Glimlag breed soos altyd, asseblief. Glimlag vir my hart, selfs al is hy nie die rede nie.

Ek hoop dat jy die dae van droom onthou. Ek hoop dat jy sal weet, viraltyd, dat my hart se segment by jou lê. Ek hoop jy weet dat ek jou liefhet.

Ek wens jou geluk met alles wat jy in hierdie tydjie regkry.

Ek hoop dat jy die skyn-glimlag op my bekkie sag sal soen en sal kyk tot in my siel wat elke geheim fluister. Luister na my uitroep in die wind. Luister na wat n hart wil uitlap oor jou. Oor alles. Oor alles van en vir jou.

Die weerman voorspel ñ donderstorm in my hart. n Orkaan in my kop en n aardbewing in my siel. Hy weet dat slegs motreen en skilder-skemers geverf is op jou siel se doek. Hy weet dat sneeuflokkies se samestelling uniek is, soos elke hoek van jou hart. Hy besef jou gedagtes is mis op n vroegmore.

Dra my hart saam met jou. Ek vra mooi dat jy my hart se toestand sal wees en ek weet dat jy die front is wat kom, maar nooit gaan nie.

Kom speel vir my Lisa se Klavier op die klawers van ons harte, joune  wit en myne die swarte.

Baie weer-uitsendings weg
n Patta wat jou sal liewer he as haar blommetjiesrokke
2016.05.11

Jammer. Ek is jammer.

Ek kan nie se dit het al met my gebeur nie. Ek kan nie se iemand wat die wereld vir my beten het, is nou ver gebere nie, maar ek kan se my hart het al mense verloor. Al baie mense verloor. Al spesiale mense verloor. En al goeie mense verloor. My hart weet wat dit is om seer te hê, maar het nog nooit daardie seer met intensiteit só erg ervaar nie.

Sterk staan is iets wat almal sê, maar nie altyd self toepas as hulle in ‘n situasie is nie. Om jou kop op te tel en aan te gaan is moeilik. Elke situasie bly omvermydelik moeilik en seer.

Vannaand is my hart seer… omdat joune seer is. My hart is seer, want daar iemand wat vannaand met ‘n lee plekkie in hulle hart gaan slaap, wat baie swaar dra. Daar is mense wat vannaand eensaam is en mense wat seer wegsteek, mense wat leeg is.

My hart huil vannaand vir jou.  Vir jou seer hart en vir jou gedagtes wat dwaal tussen herrineringe van lag en huil. My hart huil vir jou wat nes my hart, nou net prente en oomblikke oor het.

Ek wens hierdie seer nie vir my grootste vyand nie. Ek wens hierdie leemte nie eers vir die sondaar in die tronk nie. Ek wens hierdie gebeurtenis vir niemand nie, veral nie vir jou nie.

Ek is jammer dat ek nie jammer gese het nie. Ek is jammer dat ek nie saam met jou gehuil het nie. Ek is jammer dat ek nie daar was nie. Maar ek is die jammerste jammer dat jou hart moes seer he.

Ek is jammer.

Om aan jou te dink

Om aan jou te dink is soos die gevoel van die son en wind gelyk op jou ronde rooswange. Om aan jou te dink is om ‘n sprokiesverhaal in een sekond te sien flits – van begin tot einde. Om aan jou te dink ruk my wese onherroeplik deurmekaar.

Om aan jou te dink gebeur dikwels en ontydig. Dit gebeur sonder keer. Dit gebeur met groot ronde oë wat trane los op  skurwe wage.

Om aan jou te dink is om die son warm en stip teen jou koue lyf te voel. Om aan jou te dink is om waar te neem hoe jou gedagtes besig is om denk na denk te ontdooi… te ontvou rn uiteindelik te ontvries.

Om aan jou te dink lok drang-gedagtes wat rondwaai in my kop. Om aan jou te dink is soos die ontnugtering van n dronk dwarrelwind teen my onskuldige wagbeen.

Jy maak dit onbeheplik om van jou drildenke ontslae te raak. Jou dwingende oë veg vir wriemelgedagtes se parkering in my oorvol kop.

Met denke hou jy my gevangene met jou kragstem wat tralies sweis en skiet my hart in velle met elke woord wat by jou mond uitvuur. Jy hou my lyk in die diep donker put van jou genadelose liefdeloosheid en emosielose hart.

Om aan jou te dink is my hart se struikelblok. Om aan jou te dink is my siel se brieke en om aan jou te dink is erens tussen die gevoel van sterk sonstale en die deurmekaar herfsluggie wat my wange rustig met gevoel streel.

Om aan jou te dink is die afwesigeheid van die rooskleur op my wange en van jou in my hart.

Patta

Jou Rooigras-hart

My siel skuil soos die groen vlaktes onder jou rooigras-hart .

Jy steek my weg. Jy laat my nuut lyk. Jy is deel van my  hemelprentjie. Jy is die grassade wat saam met windritmes dans op die sterreverhoog van die ruimte.

Jy is my skuilplek. My wegkruipholte. Jy is die een vir wie ek alles wil wees. Jy is die een vir wie ek iets wil beteken, maar uitendelik is ek die een wat aan jou wortels klou en jou reënwater steel.

My siel se plekkie is hier langs jou, by jou, in jou. My siel soek na lewensliefde hier by jou. My siel wil verenig met jou. My siel sukkel om hom tuis te maak in jou hart en in die graspolletjies wat aan jou behoort.

Jou woorde is soos die sade wat weg waai, soos die skraal skakerings van bruin en roes na koperrooi wat hier en daar duidelik is. Jou aksies is die dou elke ogged, en ryp in die winter, wat skielik verdwyn as die son verskyn. Nie regtig nuttig en betrounaar nie.

Jou intensies en bedoelings so suiwer soos die oogknip-blou luggie wat graskoppe streel.

Jy het nog altyd gewag vir my. My gekry, gevang, vasgevang. En vernietig na sekondes van teleurstelling en wanorde. Jy het soos ‘n veldbrand my siel kom ontbloot vir die verbygangers om oor te fluiter en vir die sagmoediges om jammer te kry.

Alleen gelaat, bleek en vaal. Donker, swart en seer is my siel ook uiteindelik vernietig.  Veldbrandprosesse verander toe alles. Nie net my siel nie. Ook jou hart. En ook… vir my.

Jou lengte het my tekortkominge se oppervlakte verbreed. Jou hart het vergaan en my siel is ingesluk. Jou prentjiemooi het my beeldskoon weggevoer na onbekende bestemmings.

My siel het nou geen plek om te skuil nie. Jou rooigras-hart het stad toe getrek en my siel op die plattelandse asgat gedompel.

Patta